Die Stem van Suid-Afrika
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee
Deur ons vêr-verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra
Ons sal lewe, ons sal sterwe –
Ons vir jou, Suid-Afrika
In die murg van ons gebeente,
In ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
In ons hoop op wat sal wees
In ons wil en werk en wandel,
Van ons wieg tot aan ons graf –
Deel geen ander land ons liefde,
Trek geen ander trou ons af
Vaderland! Ons sal die adel,
Van jou naam met ere dra
Waar en trou as Afrikaners –
Kinders van Suid-Afrika
In die songloed van ons somer,
In ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde,
In die lanfer van ons rou
By die klink van huw'liks-klokkies,
By die kluit-klap op die kis –
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
Weet jy waar jou kinders is
Op jou roep sê ons nooit nee nie,
Sê ons altyd, altyd ja
Om te lewe, om te sterwe –
Ja, ons kom, Suid-Afrika
Op U Almag vas vertrouend
Het ons vadere gebou
Skenk ook ons die krag, o Here!
Om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vad're
Vir ons kinders erwe bly
Knegte van die Allerhoogste,
Teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer –
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer